Boodskap van Beheerliggaam Voorsitter

Vissieland 2020! ‘n Nuwe dekade – ‘n dekade waarin ons as skool geskiedenis gaan maak!

Ons het begin deur ons skool se eerste vroue-hoof aan te stel, Me Selma Marx. Dis vir my en die res van die Beheerliggaam ‘n groot voorreg om iemand wat so dinamies, gestruktureerd en ‘n uitsonderlike leier is, as die hoof van ons spogskool te kan aanstel.  Nie net kom sy met jarelange ondervinding in die onderwys nie, maar bring sy iets nuuts, en vars na ons skool! Dit wat ons skool nou nodig het! Ons bid haar net seën toe vir haar tyd aan die stuur van ons skool en ons weet dat sy die tradisies, waardes en etos van Laerskool A.G. Visser saam met ons sal uitleef en voortbou!

Ons weet dat ons ook op ons ouers kan staatmaak om haar hartlik te verwelkom en sommer gou tuis te laat voel! Me Marx, baie welkom in Vissieland!

‘n Nuwe dekade bring nuwe seën.  Vir my, is ons seën hierdie jaar in Psalm 20.

Dis die dekade wat óns as gesalfdes van God nie net die oorwinning sal ervaar nie – want dit is nog die heeltyd ons Vader se belofte aan ons – maar die dekade wat ons meer van God se seën en nog meer van ons Vader se liefde sal ervaar.  Gryp dit aan en moenie bang wees nie, want ons Vader sal ons staande en regop hou! Dis Sý belofte aan óns! ‘n Perfekte Lewensplan vir ons almal!  Dit is my seënwens aan elke personeellid, ouer en leerder.

Verder, wil ek vir elke ouer, leerder en personeellid die versekering gee dat ons, as die Beheerliggaam van Laerskool A.G. Visser alles in die stryd sal werp om te verseker dat die skool, net soos in die verlede, op elke gebied sal uitstyg.  Ons sal steeds daarna streef om Akademie, Sport, Kultuur en Diens, in Afrikaans en op ‘n Christelike grondslag toe te pas, aan te moedig, en deur te voer!

Ook sal ons daarna streef dat elke kind se uniekheid hier ontgin word en hulle erkenning daarvoor sal ontvang. Ons doel is om goed gebalanseerde kinders te ontwikkel, hand aan hand met elke ouer.  Ons is trots om so ‘n formidabele onderwyserskorps te hê wat ons help met die grondslag van ons kinders!

Ons sal die skool, met sy leerders, opvoeders en personeel, oplig, uitbou en koester!

Vissieland verwelkom u in 2020!

Vriendelike Vissiegroete,

Jaco Billing